fbpx

Wees die Supervrou wat jy reeds is

Hierdie artikel het op Maroela Media verskyn op 2 Oktober 2019.

Ek sit bietjie en nadink oor al die rolle wat ek vertolk: kind van die Here, dogter, sussie, vriendin, sakevrou, gastehuiseienaar, GR(SA), finansiële konsultant, spreker, outeur, hardloper, fiksheidsfanatikus, golfspeler en so gaan die lysie aan… sjoe, dit is omtrent ‘n mondvol. Dit laat mens wonder hoe kry vroue dit reg om nie permanent oorweldig, oorwerk en moedeloos te voel nie? Skielik kry die denkbeeldige Supervrou-karakter op die grootskerm lewe. Elke vrou is inderdaad ‘n Supervrou in eie reg ongeag haar unieke omstandighede.

Ek het vroeg-vroeg die korporatiewe leer geklim in die finansiële wêreld ten spyte daarvan dat ek omring was met mans. Nooit het ek minderwaardig gevoel of dat die mans my nie respekteer nie. Ek het gou besef as vrou het ek ‘n ander tipe benadering tot die sakewêreld en ek moet dit tot my voordeel gebruik. Ek hoef nie soos ‘n man op te tree om suksesvol te wees of ‘n leier te wees nie. Ek kan net myself wees.

Ek geniet dit werklik om vrou te wees, ongeag of ek optof vir ‘n aandjie uit, hard werk in die sakewêreld, ontspan saam met vriendinne en familie of gaan hardloop om fiks en gesond te bly. As vrou kan ek suksesvol wees in my eie reg, maar ek kan ook ‘n verskil maak daarbuite. Ek kan my talente en vaardighede gebruik om van die land ‘n beter plek te maak. Ek het ‘n omgeehart en ‘n sakebrein en ek dank God daarvoor. Ek sou dit nie anders wou gehad het nie.

Wat ek wel besef het belangrik is vir elkeen van ons as vroue: ons moet kyk na ons gesondheid en tyd maak in ons besige roosters om te ontspan en pret te hê. Ons moet gemaklik wees met wie ons is en hoe ons lyk. Elke vrou is uniek en ons moet net streef om ons beste self te wees. Ons moet finansiëel onafhanklik wees en genoeg kennis hê om self goeie besluite te kan neem. Ons moet ons eie drome ook kan uitleef en nie altyd terugstaan vir alles en almal nie.

Daar is niks wat ons as vroue nie kan bereik nie.

Ons moet glo in onsself en ons potensiaal. Ons moet lief wees vir onsself en vir God. Ons moet kies om gelukkig te wees. Geluk kom van binne en geen eksterne persoon, plek of besitting kan vir ons blywende geluk besorg nie. Ons moet leer om saam te staan en ander vroue te ondersteun. Wees bly vir ander vroue wanneer hulle sukses behaal of gelukkig is. Jaloesie is ‘n lelike groenoogmonster en die son is groot genoeg om oor ons almal te skyn.  

Om vrou te wees is baie meer as net die rolle wat ons vertolk. Om geskape te wees as vrou is spesiaal, uniek en merkwaardig. Dit is ‘n voorreg om vrou te wees. Dit is ‘n voorreg om te lewe en om gesond te wees. Ons moet dit nooit as vanselfsprekend aanvaar nie. Ons het Supervrou kragte en gawes gekry en dis ons verantwoordelikeid om daardie kragte en gawes wat diep binne-in ons gesetel is, the ontgin en uit te leef. Dis hoekom God ons as vrou geskape het.    

* Hierdie is ‘n reeks van rubrieke deur vooraanstaande vroue wat hulle steun aan die FroueFonds verleen. FroueVonds word opsetlik verkeerd gespel om aan te sluit by sy slagspreuk – “want alles loop nie altyd reg nie”. Die fonds is geskep vir meisies en jong vroue wat hulp nodig het op alle vlakke in hul lewensfase en fokus daarop om hierdie vroue te ondersteun en te bemagtig. Dit is vir die FroueVonds belangrik om kwessies wat vroue na aan die hart lê, saam met kundiges op verskeie gebiede te takel. Vir meer inligting of om by die FroueVonds betrokke te raak, besoek hulle webwerf hier.

Geskryf deur: Ronel Jooste is ‘n geoktrooieerde rekenmeester, finansiële konsultant, spreker en outeur. Ronel is ‘n bekende gesig op Maroela Media en deel in die rubriek inspirasie om die Supervrou wat jy is, uit te leef.

Our Newsletter

Subscribe to our Newsletter to receive the latest news and tips, free tools and much more.